Ons het by Hanke du Toit, die hoofbestuurder van die Oranje-Riet Watergebruikersvereniging, navraag gedoen oor die herkalibrasiediens wat hulle aan lede verskaf.
Hoekom het julle besluit om so ‘n diens te lewer?
Dis baie goedkoper as om ‘n kontrakteur te kry. Die laaste kwotasie wat ons van ‘n verskaffer ontvang het, in 2017, was R1524 per meter. As ons dit self doen, kos dit ongeveer R500 per meter.
Waar en hoe het julle die ouens laat oplei? Hoeveel persone het julle opgelei?
Daar is drie persone vir opleiding gestuur by N&Z Instrumentation in Johannesburg. Die toetsmeter (“master meter” in Engels) was reeds aangekoop en opleiding is op die spesifieke meter gedoen. Die kursus was een vol dag en elkeen het ‘n sertifikaat vir die opleiding ontvang.
Watter kalibrasiemetodes gebruik julle? ‘n Toetsmeter, bv ‘n aanklamp ultrasoniese meter, volumetriese kalibrasie, iets anders?
Ons gebruik ‘n ultrasoniese vloeimeter; die “transducers” word aan die pyp geklamp. Die meter gee verskillende inligting, maar ons gebruik net die huidige vloei. Nadat vloei geneem is, gaan jy oor na die meter wat jy toets. ‘n Lesing word geneem op hierdie watermeter en as dit nodig is, word die meter geherkalibreer. Laastens word die watermeter weer verseël. Tans kan ons net meganiese meters en FloCheck se ElectroFlo meters herkalibreer.
Kalibreer julle in die veld of in ‘n laboratorium, of beide?
Ons kalibreer slegs in die veld. Watermeters word op verskillende plekke op pyplyne geïnstalleer en die watermeter word onder daardie omstandighede geherkalibreer.
As julle ‘n toetsmeter gebruik, hoe maak julle seker dat die toetsmeter akkuraat bly?
Die vloeimeter word aan ‘n pyp gekoppel waar geen vloei is nie, die lesing behoort dan 0 te wees. As daar enige ander lesing as 0 is, is daar ‘n funksie op die meter om dit reg te stel. Dit word ook alles in die opleiding bespreek. In die veld gebruik ons ‘n eenvoudige metode om te bepaal hoeveel die vloeimeter min of meer moet wys nog voordat dit aan die pyp gekoppel word. Byvoorbeeld, ‘n 12mm spuitpakket lewer 5m³ per hektaar (ha). So ‘n 30ha spilpunt moet ongeveer 150m³/uur lewer (dit dien as ‘n riglyn).
Is die diens net vir julle lede beskikbaar, of lewer julle ook die diens buite julle gebied?
Die diens is beskikbaar vir lede van Oranje-Riet en Benede-Modder Watergebruikersverenigings.
Wat kos herkalibrasie ‘n produsent per meter?
Die eerste jaar het dit ons ongeveer R500 per meter uitgewerk op 310 watermeters. Dit sluit die koste om die toerusting aan te koop en die opleiding in. Huidiglik werk dit ongeveer R350 per meter uit.
Kontak Hanke du Toit van Oranje-Riet by 082 806 7722 vir meer inligting.